“Waa`sie dagga?” groet die jongman my. Ek ignoreer hom en hou rigting verby die groep wat my aanstaar. Ek voel nie regtig bedreig nie en glimlag vir die komieklike situasie. Ek lyk seker soos `n skollie met geheime marijuana plantasies in die berge wat aan Amsterdam se “coffee shops” verkoop, maar dis `n fout. Terwyl ek die grondpad uit die vallei gevolg het, het ek gedurig gewonder “Waar gaan ek noù uitkom?” Ek het juis hierdié inligting nodig sodat my swaer weet waar om my op te tel. Kilometer na kilometer stap ek in die warm son, my voete en bene nou-al moeg na `n lang dag in die berge en blootgestelling aan die Desember hitte. Uiteindelik sien ek tekens van die beskawing, vrugteboorde, wingerde, `n draadheining en ek hoor `n hond wat iewers blaf. My gedagtes het gedraai en met die ironie begin speel, “Sê nou net `n hond val my aan nadat ek uit die moeilikheid op die berg is!” Langs die pad tel ek `n stewige stok op, vir nou `n stapstok, vir later dalk `n wapen. Aan my linkerkant lê `n plaas, maar reg voor my sien ek die sekeuriteitshek wat boosdoeners moet uithou. Hulle het seker nie gedink iemand sal oor die berge aan die agterkant inkom nie. Ek weet nog steeds nie wat dit was nie, maar aan die bo-kant van die vallei is daar een of ander wateraanleg. My vreugde was egter groot toe ek die geheimsinnige plek waar die grondpad doodloop bereik. Vir nou is my probleem egter om oor die heining met die lemmetjiesdraad te kom.
“Meneer, ek kan nie toelaat dat jy teen Die Pieke uitgaan nie. Jy moet `n permit gaan kry by Cape Nature. Hulle maak nege uur oop.” My moed begin in my skoene val. Daar is blykbaar `n kantoor naby, maar ek kan nie nog `n uur wag nie. Dit gaan `n warm dag word en ek is reeds effens laat. Die hekwag tik met sy vinger teen `n kennisgewing op die houtmuur, “Bergredding moes `n klomp studente van Die Pieke gaan afhaal, en sonder permit, meneer, neem jy self die risiko, en ek kan jou nie toelaat nie” herhaal hy homself. Ek koop egter die permit om by Jonkershoek in te gaan. Soos ek die sirkelroete ry tuur ek gedurig op Pieke se kant toe, “waar is Nerina-kloof nou eintlik?” Ek parkeer net buitekant die hek en neem een van die bosboupaaie op deur die plantasie.
Na ongeveer `n uur se stap is ek op `n rif wat suidoos loop, vanaf Botmaskop (of Helshoogte) tot bo-op Die Pieke. Van hieraf sien jy die Jonkershoekvallei aan jou westekant en `n onbekende vallei (onbekend aan my) aan jou oostekant. Ek soek vir`n voetpad wat suidoos loop in die rigting van Die Pieke maar sien slegs `n brandpad op die Jonkershoek-flank van die berg. Met moeite klim ek `n grondwal uit en begin al met die brandpad langs loop in die rigting waar dit Nerinakloof sal ontmoet.
As die brandpad skielik stop moet ek my pad baan deur die fynbos en my spoed neem drasties af. Die sweetdruppels val nou vryelik van my gesig af en ek besef dadelik eks nie meer gewoond aan die Afrika-son nie. Ek is egter oortuig ek sal water kry in die kloof.
Uiteindelik vind ek Nerinakloofroete en kan weer gemakliker loop op die voetpad. Dit is `n indrukwekkende kloof met varings, wildevy-bome en vele ander plantegroei wat ek nie ken nie. Die skaduwee is heerlik koel en ek maak my waterbottel vol nadat my dors geles is. Reusagtige rotse lê plek-plek rond en water vloei oor klippe wat soms met mos begroei is. Steil rotswande met groot skeure laat my verbeelding op hol gaan en ek sien hoe `n luiperd vir my lê en gluur. Ek raak vinnig van die gedagte ontslae en stap verder nadat ek iets geëet het. Kort na 11:00 begin ek die bo-kant van die kloof sien en besef alles neem langer as wat ek wil hê. Nou beweeg ek weer uit die kloof se skaduwee in die genadelose son in. Die kloof loop uit op `n nek aan die bo-kant, weereens met `n pragtige uitsig.
Van hier af loop die vae voetpad weer suidoos in die rigting van Die Pieke. Dit is onduidelik en slegs gemerk met klipmannetjies. Ek is nou redelik haastig en stop nie om `n breek te vat nie. Ek kyk af en toe terug van waarlangs ek gekom het en probeer bakens identifiseer. Onder andere loop ek langs `n reuse klipboog verby terwyl `n krans etlike meters daarvandaan die afgrond in verdwyn. Ek gaan op teen `n steil rand, en dan nog `n steil rand met helderkleurige groen gras. Die roete is bedrieglik lank, veral as jy die eerste deel self probeer uitwerk. Ek is nou min of meer op `n plato wat bestaan uit kort stokkerige olyfgroen gras tussen grys wit-gevlekte klippe met `n paar bossies wat kop uitsteek. Die son is warm en ek sweet myself nat. Die voetpad verander rigting en gaan met `n boog tot bo-op die effens kleiner noordelike piek. Dan loop ek verder en uiteindelik is ek op die suidelike piek. Ek loop verby die baken, gaan sit, drink water, eet brood en rond af met gesmelte sjokolade as nagerêg. `n Swerm witkruiswindswaels geniet middagete saam met my om 12:30. Hulle vlieg soms so naby aan my verby dat ek windgeraas in my ore kry en instinktief koes.
Die uitsig vanaf Die Pieke (ca. 1,500m) is `n besonderse plesier vir die oog. Baie opvallend en uniek is die kombinasie van see en berg. In `n suidwestelike rigting lê Valsbaai, duidelik sigbaar oor die kleiner rif met Stellenboschberg aan sy voorkant. Slegs Haelkop se hoogste deel maak `n driehoekige punt wat die sig effens beperk. Ten spyte daarvan net regs verby dié piek, sien ek Kaappunt op die horison oorkant Valsbaai se waters. Links verby Haelkop lê die Strand, Gordonsbaai en selfs Hangklip is sigbaar. Op die horison is `n deursigtige wit-blou waasigheid wat geleidelik verander in donkerder skakerings todat die diep-blou helder hemel bokant my die oneindigheid in strek.
Ek koes weer vir `n windswael terwyl my oog verdwaal en Tafelberg met sy wolkkombers identifiseer, piepklein op die horison. Noordwes lê die lang rif waarop ek vroëer was, wat eindig in Botmaskop en dadelik trek Simonsberg my aandag. Simonsberg, prominent en alleenstaande soos `n sentinel wat waghou oor die die lappiesland wynlande met verskillende skakerings van groen en bruin. Hier en daar tussen landerye weerkaats sonlig vanaf `n plaasdam. Simonsberg lê amper in lyn met my sig en ek sien die sagte, aantreklike lyne gevorm deur teenoorstaande bergflanke wat geleidelik growwer word todat dit eindig in `n rotsagtige rif met `n ronde hoogtepunt. Vuurhoutjiedoos huisies lê vêr onder die berge en kom irellevant voor.
Skuins-regs van Simonsberg baklei Paarlberg vir my aandag maar die reuse granietkop lyk soos `n heuwel van hier af. Vanaf die ooste tot suide lê berg op berg met onontdekte skeure en kranse. Dit ontmoet die horison terwyl fyn cumulus-wolke sonder bedreiging in die lug hang, en die woorde kom by my op, “Here, nature is offering that worship to her Creator which man is refusing” (Roger Steer: J. Hudson Taylor, A man in Christ). `n Windswael duik naby my verby en die windgeraas bring my terug tot die werklikheid. Ek besef ek droom reeds `n halfuur en ek maak reg om af te gaan.
Ek stap `n vinnige pas en volg klipmannetjies oor die plato-agtige gedeelte. Geleidelik begin die helling na onder steiler raak en meer bosse steek kop uit. Onduidelike klipmannetjies laat my begin twyfel aan die roete. Ek kyk rond op soek na voetpadbakens maar sien niks beduidends nie, en besef ek is die pad kwyt. Ek het `n idee van die algemene rigting en ek stap verder terwyl die genadelose son sy tol eis. Die sonroom op my gesig en arms spoel weg in riviere van sweet en ek is dankbaar om in die koelte van `n groot rotsdak te gaan sit, iets te eet, water te drink en oor my situasie te besin. Daar is nog ten minste vyf tot ses ure se sonlig en indien dit `n probleem raak het ek genoeg warm goed om op die berg te oornag. Intussentyd moet ek probeer afkom. Ek bevind my op die teenoorgestelde bergflank van waar ek opgegaan het. My vermoede is ek het té vinnig afgekom en die regte voetpad is bo-kant my. Intussen het ek vêr onder in die vallei `n grondpad gesien en ek het `n drie-punt plan wat ek nou sal volg. Eerstens sal ek terug opstap teen die flank en die regte paaidjie soek. Tweedens sal ek probeer afgaan op hierdie flank tot by die grondpad, maar dit beteken ek sal my pad moet baan deur die fynbos. Derdens, as noodsaak, kan ek die nag op die berg spandeer en tyddruk hoef my nie paniekerig te maak nie. Vir `n sekonde sien ek hoe tik Jonkershoek se hekwag op die kennisgewing en donker gedagtes wil my ontsenu. Ek baklei daarteen, sê `n skietgebed en raak rustig voor ek begin opstap deur die fynbos opsoek na die regte pad.
Nou is dit duidelik dat elke paar klippe wat los saamgegroepeer lê vir my na `n klipmannetjie lyk. Ek gaan op teen die flank en moet gereeld rondom rotsversperrings kontoer voor ek verder kan opgaan. Die proses herhaal homself maar ek kry geen voetpad nie. Ek oorweeg dit nie eers om self `n pad uit te werk terug tot by Nerinakloof nie. Daar is te veel kranse. Die fynbos en los klipperige grond gekoppel met die hitte maak die soekproses uitputtend en na ongeveer `n driekwartuur gooi ek tou op en besluit om oor te gaan na plan B.
Die eerste gedeelte af teen die bergflank gaan baie goed en ek kan naby aan `n waterstroompie bly loop. Dan val die grond weg en die water tuimel meters na onder. Ek moet weer `n kontoer loop, die keer in die rigting uit die vallei en weg van die water af. Die fynbos is soms ruig en my voete gly `n paar keer op die los klippe wat verskuil onder die gras lê. Ek hou aan met die kontoer geleidelik na onder vir `n lang ent en kry moed toe ek sien die flank plat vreedsaam af tot in die vallei sonder gevaar van kranse.Ek sien my foon het sein en besluit om my swaer, wat reeds twee keer op Die Pieke was, te laat weet wat my situasie is. Met sy rustige stem bied hy aan om my te kom optel sodra ek hom kan sê waar ek is. Met seer voete en `n blye gemoed bereik ek die onbekende aanleg waar die grondpad doodloop. Gelukkig hoef plan C nie in aksie te kom nie.
Nou staan ek voor die heining met sekeuriteitshek wat geen maklike deurkom kans bied nie. Die hoekpaal is die beste opsie. Versigtig klim ek oor en spring af aan die anderkat. Ongelukkig het ek nog steeds nie `n idee waar ek is nie toe ek die vrou skuins voor my sien loop. “Ekskuustog!?, ….hallo ….. waarso is ek nou?” Sy stop en kyk vir `n sekonde of twee met vrae in haar oë, dan sê sy vriendelik, “Nee meneer hierdie is die plaas so-en-so en as meneer aanstap met die pad dan kom meneer by Kylemore uit.” Kylemore!… uiteindelik weet ek wat om vir my swaer te laat weet.
Ek stap verder verby die groep manne wat besef ek rook nie pot nie en loop deur Kylemore. Hy sien my stap soos hy die dorp inry en stop by my. Ek los die groot stok wat ek dra net daar, gooi my rugsak in die kar, sak weg in die motorsitplek en sien die yskoue Tafel lager voor my! “Ek het gedink jy sal dit geniet” sê Kristiaan. Ek verstik amper in my bier toe hy rustig opmerk, “Jy is die enigste ou waarvan ek weet wat Kylemore toe stap oor Die Pieke.
Die Pieke, 3 dae voor die klim vanaf Neil Ellis wynlandgoed.