`n Besoek aan Kylemore en `n uitsig vanaf Die Pieke

“Waa`sie dagga?” groet die jongman my. Ek ignoreer hom en hou rigting verby die groep wat my aanstaar. Ek voel nie regtig bedreig nie en glimlag vir die komieklike situasie. Ek lyk seker soos `n skollie met geheime marijuana plantasies in die berge wat aan Amsterdam se “coffee shops” verkoop, maar dis `n fout. Terwyl ek die grondpad uit die vallei gevolg het, het ek gedurig gewonder “Waar gaan ek noù uitkom?” Ek het juis hierdié inligting nodig sodat my swaer weet waar om my op te tel. Kilometer na kilometer stap ek in die warm son, my voete en bene nou-al moeg na `n lang dag in die berge en blootgestelling aan die Desember hitte. Uiteindelik sien ek tekens van die beskawing, vrugteboorde, wingerde, `n draadheining en ek hoor `n hond wat iewers blaf. My gedagtes het gedraai en met die ironie begin speel, “Sê nou net `n hond val my aan nadat ek uit die moeilikheid op die berg is!” Langs die pad tel ek `n stewige stok op, vir nou `n stapstok, vir later dalk `n wapen. Aan my linkerkant lê `n plaas, maar reg voor my sien ek die sekeuriteitshek wat boosdoeners moet uithou. Hulle het seker nie gedink iemand sal oor die berge aan die agterkant inkom nie. Ek weet nog steeds nie wat dit was nie, maar aan die bo-kant van die vallei is daar een of ander wateraanleg. My vreugde was egter groot toe ek die geheimsinnige plek waar die grondpad doodloop bereik. Vir nou is my probleem egter om oor die heining met die lemmetjiesdraad te kom.

“Meneer, ek kan nie toelaat dat jy teen Die Pieke uitgaan nie. Jy moet `n permit gaan kry by Cape Nature. Hulle maak nege uur oop.” My moed begin in my skoene val. Daar is blykbaar `n kantoor naby, maar ek kan nie nog `n uur wag nie. Dit gaan `n warm dag word en ek is reeds effens laat. Die hekwag tik met sy vinger teen `n kennisgewing op die houtmuur, “Bergredding moes `n klomp studente van Die Pieke gaan afhaal, en sonder permit, meneer, neem jy self die risiko, en ek kan jou nie toelaat nie” herhaal hy homself. Ek koop egter die permit om by Jonkershoek in te gaan. Soos ek die sirkelroete ry tuur ek gedurig op Pieke se kant toe, “waar is Nerina-kloof nou eintlik?” Ek parkeer net buitekant die hek en neem een van die bosboupaaie op deur die plantasie.

Na ongeveer `n uur se stap is ek op `n rif wat suidoos loop, vanaf Botmaskop (of Helshoogte) tot bo-op Die Pieke. Van hieraf sien jy die Jonkershoekvallei aan jou westekant en `n onbekende vallei (onbekend aan my) aan jou oostekant. Ek soek vir`n voetpad wat suidoos loop in die rigting van Die Pieke maar sien slegs `n brandpad op die Jonkershoek-flank van die berg. Met moeite klim ek `n grondwal uit en begin al met die brandpad langs loop in die rigting waar dit Nerinakloof sal ontmoet.

As die brandpad skielik stop moet ek my pad baan deur die fynbos en my spoed neem drasties af. Die sweetdruppels val nou vryelik van my gesig af en ek besef dadelik eks nie meer gewoond aan die Afrika-son nie. Ek is egter oortuig ek sal water kry in die kloof.

Uiteindelik vind ek Nerinakloofroete en kan weer gemakliker loop op die voetpad. Dit is `n indrukwekkende kloof met varings, wildevy-bome en vele ander plantegroei wat ek nie ken nie. Die skaduwee is heerlik koel en ek maak my waterbottel vol nadat my dors geles is. Reusagtige rotse lê plek-plek rond en water vloei oor klippe wat soms met mos begroei is. Steil rotswande met groot skeure laat my verbeelding op hol gaan en ek sien hoe `n luiperd vir my lê en gluur. Ek raak vinnig van die gedagte ontslae en stap verder nadat ek iets geëet het. Kort na 11:00 begin ek die bo-kant van die kloof sien en besef alles neem langer as wat ek wil hê. Nou beweeg ek weer uit die kloof se skaduwee in die genadelose son in. Die kloof loop uit op `n nek aan die bo-kant, weereens met `n pragtige uitsig.

Van hier af loop die vae voetpad weer suidoos in die rigting van Die Pieke. Dit is onduidelik en slegs gemerk met klipmannetjies. Ek is nou redelik haastig en stop nie om `n breek te vat nie. Ek kyk af en toe terug van waarlangs ek gekom het en probeer bakens identifiseer. Onder andere loop ek langs `n reuse klipboog verby terwyl `n krans etlike meters daarvandaan die afgrond in verdwyn. Ek gaan op teen `n steil rand, en dan nog `n steil rand met helderkleurige groen gras. Die roete is bedrieglik lank, veral as jy die eerste deel self probeer uitwerk. Ek is nou min of meer op `n plato wat bestaan uit kort stokkerige olyfgroen gras tussen grys wit-gevlekte klippe met `n paar bossies wat kop uitsteek. Die son is warm en ek sweet myself nat. Die voetpad verander rigting en gaan met `n boog tot bo-op die effens kleiner noordelike piek. Dan loop ek verder en uiteindelik is ek op die suidelike piek. Ek loop verby die baken, gaan sit, drink water, eet brood en rond af met gesmelte sjokolade as nagerêg. `n Swerm witkruiswindswaels geniet middagete saam met my om 12:30. Hulle vlieg soms so naby aan my verby dat ek windgeraas in my ore kry en instinktief koes.

Die uitsig vanaf Die Pieke (ca. 1,500m) is `n besonderse plesier vir die oog. Baie opvallend en uniek is die kombinasie van see en berg. In `n suidwestelike rigting lê Valsbaai, duidelik sigbaar oor die kleiner rif met Stellenboschberg aan sy voorkant. Slegs Haelkop se hoogste deel maak `n driehoekige punt wat die sig effens beperk. Ten spyte daarvan net regs verby dié piek, sien ek Kaappunt op die horison oorkant Valsbaai se waters. Links verby Haelkop lê die Strand, Gordonsbaai en selfs Hangklip is sigbaar. Op die horison is `n deursigtige wit-blou waasigheid wat geleidelik verander in donkerder skakerings todat die diep-blou helder hemel bokant my die oneindigheid in strek.

Ek koes weer vir `n windswael terwyl my oog verdwaal en Tafelberg met sy wolkkombers identifiseer, piepklein op die horison. Noordwes lê die lang rif waarop ek vroëer was, wat eindig in Botmaskop en dadelik trek Simonsberg my aandag. Simonsberg, prominent en alleenstaande soos `n sentinel wat waghou oor die die lappiesland wynlande met verskillende skakerings van groen en bruin. Hier en daar tussen landerye weerkaats sonlig vanaf `n plaasdam. Simonsberg lê amper in lyn met my sig en ek sien die sagte, aantreklike lyne gevorm deur teenoorstaande bergflanke wat geleidelik growwer word todat dit eindig in `n rotsagtige rif met `n ronde hoogtepunt. Vuurhoutjiedoos huisies lê vêr onder die berge en kom irellevant voor.

Skuins-regs van Simonsberg baklei Paarlberg vir my aandag maar die reuse granietkop lyk soos `n heuwel van hier af. Vanaf die ooste tot suide lê berg op berg met onontdekte skeure en kranse. Dit ontmoet die horison terwyl fyn cumulus-wolke sonder bedreiging in die lug hang, en die woorde kom by my op, “Here, nature is offering that worship to her Creator which man is refusing” (Roger Steer: J. Hudson Taylor, A man in Christ).  `n Windswael duik naby my verby en die windgeraas bring my terug tot die werklikheid. Ek besef ek droom reeds `n halfuur en ek maak reg om af te gaan.

Ek stap `n vinnige pas en volg klipmannetjies oor die plato-agtige gedeelte. Geleidelik begin die helling na onder steiler raak en meer bosse steek kop uit. Onduidelike klipmannetjies laat my begin twyfel aan die roete. Ek kyk rond op soek na voetpadbakens maar sien niks beduidends nie, en besef ek is die pad kwyt. Ek het `n idee van die algemene rigting en ek stap verder terwyl die genadelose son sy tol eis. Die sonroom op my gesig en arms spoel weg in riviere van sweet en ek is dankbaar om in die koelte van `n groot rotsdak te gaan sit, iets te eet, water te drink en oor my situasie te besin. Daar is nog ten minste vyf tot ses ure se sonlig en indien dit `n probleem raak het ek genoeg warm goed om op die berg te oornag. Intussentyd moet ek probeer afkom. Ek bevind my op die teenoorgestelde bergflank van waar ek opgegaan het. My vermoede is ek het té vinnig afgekom en die regte voetpad is bo-kant my. Intussen het ek vêr onder in die vallei `n grondpad gesien en ek het `n drie-punt plan wat ek nou sal volg. Eerstens sal ek terug opstap teen die flank en die regte paaidjie soek. Tweedens sal ek probeer afgaan op hierdie flank tot by die grondpad, maar dit beteken ek sal my pad moet baan deur die fynbos. Derdens, as noodsaak, kan ek die nag op die berg spandeer en tyddruk hoef my nie paniekerig te maak nie. Vir `n sekonde sien ek hoe tik Jonkershoek se hekwag op die kennisgewing en donker gedagtes wil my ontsenu. Ek baklei daarteen, sê `n skietgebed en raak rustig voor ek begin opstap deur die fynbos opsoek na die regte pad.

Nou is dit duidelik dat elke paar klippe wat los saamgegroepeer lê vir my na `n klipmannetjie lyk. Ek gaan op teen die flank en moet gereeld rondom rotsversperrings kontoer voor ek verder kan opgaan. Die proses herhaal homself maar ek kry geen voetpad nie. Ek oorweeg dit nie eers om self `n pad uit te werk terug tot by Nerinakloof nie. Daar is te veel kranse. Die fynbos en los klipperige grond gekoppel met die hitte maak die soekproses uitputtend en na ongeveer `n driekwartuur gooi ek tou op en besluit om oor te gaan na plan B.

Die eerste gedeelte af teen die bergflank gaan baie goed en ek kan naby aan `n waterstroompie bly loop. Dan val die grond weg en die water tuimel meters na onder. Ek moet weer `n kontoer loop, die keer in die rigting uit die vallei en weg van die water af. Die fynbos is soms ruig en my voete gly `n paar keer op die los klippe wat verskuil onder die gras lê. Ek hou aan met die kontoer geleidelik na onder vir `n lang ent en kry moed toe ek sien die flank plat vreedsaam af tot in die vallei sonder gevaar van kranse.Ek sien my foon het sein en besluit om my swaer, wat reeds twee keer op Die Pieke was, te laat weet wat my situasie is. Met sy rustige stem bied hy aan om my te kom optel sodra ek hom kan sê waar ek is. Met seer voete en `n blye gemoed bereik ek die onbekende aanleg waar die grondpad doodloop. Gelukkig hoef plan C nie in aksie te kom nie.

Nou staan ek voor die heining met sekeuriteitshek wat geen maklike deurkom kans bied nie. Die hoekpaal is die beste opsie. Versigtig klim ek oor en spring af aan die anderkat. Ongelukkig het ek nog steeds nie `n idee waar ek is nie toe ek die vrou skuins voor my sien loop. “Ekskuustog!?, ….hallo ….. waarso is ek nou?” Sy stop en kyk vir `n sekonde of twee met vrae in haar oë, dan sê sy vriendelik, “Nee meneer hierdie is die plaas so-en-so en as meneer aanstap met die pad dan kom meneer by Kylemore uit.” Kylemore!… uiteindelik weet ek wat om vir my swaer te laat weet.

Ek stap verder verby die groep manne wat besef ek rook nie pot nie en loop deur Kylemore. Hy sien my stap soos hy die dorp inry en stop by my. Ek los die groot stok wat ek dra net daar, gooi my rugsak in die kar, sak weg in die motorsitplek en sien die yskoue Tafel lager voor my! “Ek het gedink jy sal dit geniet” sê Kristiaan. Ek verstik amper in my bier toe hy rustig opmerk, “Jy is die enigste ou waarvan ek weet wat Kylemore toe stap oor Die Pieke.

Die Pieke, 3 dae voor die klim vanaf Neil Ellis wynlandgoed.

Categories: Uncategorized | 1 Kommentaar

Mooiweer op die Wetterhorn

My alarm gaan af om 02:30 Sondagoggend. Sekondes later maak nog `n alarm lawaai en kopliggies breek die donker. Ek weet presies wat om te doen, my rugsak is die vorige aand gepak en my klere is uitgesit. Ek trek vinnig aan en druk die laaste paar goed in my rugsak. Saterdagnag se reën het opgeklaar en buitekant glinster ontelbare sterre in die hemel. Die somerlug is kraakvars en koud. Lig val deur die ruite van die hut en gooi skaduwees op die grond. Nou en dan breek gedempte klanke deur die mure, maar verdwaal vinnig in die stilte van die vroeë oggendure.

Vanoggend se ontbyt was heerlik ten spyte van my swak eetlus en gedempte atmosfeer drie uur die oggend. Müesli en yoghurt, brood, sap en koffie. Dit was alles reeds voorberei deur die flukse berghutpersoneel. Tydens ete het ek sarkasties opgemerk hoe lekker ek geslaap het, ten spyte van `n gesnorkery en middernag toiletbesoeke in die slaapsaal. Nou is ons al vier buitekant en oomblikke later begin ons opstap teen die berg, met kopliggies aan en elkeen besig met sy eie gedagtes. Ons is aan die voet van die Wetterhorn, `n piek van 3,700m wat effens noordoos van sy berugte groter broer, die Eiger (3,970m) lê.

Saterdagoggend het ek die ander lede van die klim ontmoet, Karl, Rolf en Charly, almal Switsers uit die Duitssprekende gedeelte van dié land. As gevolg van hulle dialek moes ek hulle versoek om hoogduits te praat en hulle het vriendelik ingestem daartoe. Op `n kristalhelder oggend in Grindelwald het die Eiger Noorwand ons gegroet. Die reuse wand van 1,800m is so te sê loodreg met die grond, bestaan uit rots, ys en sneeu en is al herdoop na die Moordwand. Dis nie om dowe neute dat dit die “laaste groot probleem van die Alpe” genoem was nie en eers ongeveer 130 jaar na ander bekende pieke soos die Jungfrau geklim is. Dit troon onheilspellend oor Grindelwald uit.

Dié toeristedorpie voel eweskielik baie ver, al het ons binne slegs `n paar uur opgestap die vorige dag. Die stap tot by die hut was baie indrukwekkend! Ek was doodtevrede om agter te loop, rustig fotos te neem en die tonele, wat meer dramaties word met elke tree in te drink. Die grond en gruis voetpad was duidelik sigbaar in die grasgroen gras. Dit het gestrek oor klippe en langs yslike kranse verby. Een spesifieke toneel sal vir altyd in my kop bly. Op daardie stadium was ons op die oostekant van `n diep vallei waar die gras groei tot teen aan die rotskranse waar die voetpad lê. Aan die oorkant is reusagtige vertikale rotswande wat nog stuk-stuk ys en sneeu bevat. Daar is water wat uit die rotswande stroom, oënskynlik uit nêrens soos Moses wat sy staf geslaan het. Diè rots strek tot onder in die vallei waar dit die tong van `n gletser ontmoet. Hoër op strek dieselfde reusagtige gletser wat jou oog lei tot op die pieke. Plek plek kan jy massiewe vertikale blou yswande van die gletser sien. Ek was dankbaar dat ons nie dié gletser moet oorkruis nie.

Ek het `n week tevore in die trein, terwyl ons langs `n rivier ry, vir `n Switser vertel dat ek in Namibië groot geword het, en aan hom probeer verduidelik hoe anders dit is. Onder andere het ek het altyd gedink `n rivier is iets wat een of twee keer `n jaar afkom, indien enigsins. Wanneer dit wel gebeur is dit `n groot gebeurtenis en haal selfs voorbladnuus. Hierso is water so volop soos sand in die Namibwoestyn.

My volle aandag is terug by die hede wanneer ons tot stilstand kom voor `n kleiner gletser. Hierso moet Charly (die groepleier) eers die roete uitwerk. Dis nog donker en koud en ons verloor bietjie tyd. Dan het Charly die roete, en ons gaan tot by die rand van die gletser. Op ongeveer 2,800m is ons so hoog soos gedeeltes van die Drakensbergplato en ek herhinner myself aan die 9 dae ekspedisie saam met twee vriende oor die Drakensberg, die sogenaamde “Grand Traverse”. Dit begin by Sentinel Peak tot Sani Top of Bushmens Neck afhangende van hoe lank jy en jou vriende kan uithou sonder `n stort en steak en chips.

Nou trek ons ons klimysters aan en vorm twee touspanne van twee elk,  ek saam met Charly. Op die gletser kraak die gevriesde ou sneeu onder die klimysters. Ek loop versigtig dat dit nie my broekspyp vang nie. Dit maak jou voete swaarder en vat dus effens meer konsentrasie. Ons loop oor `n paar krevasse maar dis nie groot nie en die risiko om in te val is klein. Aan die oorkant ontmoet die gletser `n groot rotsrif. Ons loop sonder voorval tot daar en haal die klimysters van die skoene af, maar bly in die touspanne. Charly is voor, ek agter aan hom geknoop en dan kom die ander span. Vir die grootste gedeelte is die rotsrif lank en nou en hoog en gevaarlik. Ons gaan klim-klim voort, hoër en hoër.

Soos ons opgaan begin die tipe rots verander en mens moet jou greep toets om seker te maak die rots sal nie uitbreek nie. Wanneer dit wel uitbreek volg jou oog die rotsskerwe wat honderde meters tot onder val. Hierso wil mens geen foute maak nie, selfs met `n tou om jou te vang, kan dit jou laaste fout wees. Na `n lang klim oor die rots kom ons by `n sneeunek uit. Op ongeveer 3,500m is dit effens hoër as Mafadi  (3,460m), die hoogste piek in Suid-Afrika. Deur die hoogte bo seëvlak te vergelyk met iets bekends in Suid-Afrika motiveer ek myself. Dis nou ongeveer 08:00 en die helder son se lig weerkaats skerp vanaf die sneeu. Ons sonbrille is opgesit, een laag klere is uitgetrek en ons trek weer die klimysters aan. Mens kan ook begin agterkom die hoeveelheid suurstof in die lug raak nou minder. Hierso draai ons noord en volg nou `n sneeurug tot bo-op die piek. Die sneeurug het egter stuk-stuk klippe en rots om oor te klim. Aangesien dit tydrowend is om die klimysters uit en aan te trek hou ons dit aan terwyl ons oor die rots loop. Dit is uiters ongemaklik aangesien jy 2 tot 3 cm hoër is en dit stres op jou enkels plaas. Hiermee saam gee dit dieselfde gevoel as iemand wat met sy naels oor `n skryfbord  krap. Dan is ons teen die laaste steil sneeuwand voor ons bo-op die piek is. Ons skop die klimysters in die sneeu in en gebruik die yspik vir ekstra ondersteuning.

Ek wonder vir `n oomblik wat soek ek hierso. Hierso is niks nie, lewe niks nie, jy sien nie voels nie, jy hoor niks nie. Dis `n verlate plek en dit gee `n effense verlate gevoel.  Ek kyk na die oostekant en sien sneeubedekte pieke tot op die horison. Dit lyk inderdaad soos strooisuiker pieke. Charly is nou bo en wag vir my. Ek klim tot by hom en glimlag. Dis ongeveer 09:00 op `n pragtige helder Sondagmôre, 3,700m bo die geraas van die wereld. Ek kyk op hemel toe en sê dankie. Charly steek sy hand uit, “Gratuliere!” Ek skud Charly se hand, “Gratuliere!”

Dan kom die ander twee ook aan. Ek haal brood uit en geniet die uitsig. Hier van bo af sien mens die Eiger vanaf `n ander hoek en dit is duidelik sigbaar daar is heelwat maklik roetes om bo uit te kom as die berugte Moordwand.

Nou praat die ander Switserse-duits met mekaar en ek hoor iets van vyf minute. Ek vra vir Charly en hy bevestig dat ons oor vyf minute afgaan. Hy is bang die weer draai en wil nie te lank bly nie, dit kan dinge baie kompliseer. Ek byt `n paar stukke brood af en kou maar terwyl ek regmaak om weer af te gaan. Net soos ons begin, nog bo-op die sneeu piek vang my linker klimyster my broekspyp en ek gaan sit hande viervoet, `n fout wat op `n meer kritieke plek lewensgevaarlik kan wees. Ek staan op en ons klim dieseflde roete af. Dit is tydrowend oor die gevaarlike rotsrif en Charly maak altyd seker die tou kan hom of my vang as een van ons sou val. Dis die veiligste manier maar dit neem ook ekstra tyd. Intussen, onder by die gletser het die paar ure se son reeds die ou sneeu sag gemaak. Toe ons daar uitkom besluit Charly om sonder die klimysters oor die gletser te loop. Met die boonste lagie sneeu wat reeds gesmelt het is die krevasse ook duideliker sigbaar. Sonder handskoene neem ons die yspik in ons hand, maar ek weet as `n reël trek jy handskoene aan vir beskerming. Charly besluit egter daarteen en ek volg sy voorbeeld. Hy kom tot stilstand by `n krevas wat nou duidelik sigbaar geword het en besluit om oor te spring. Ons is natuurlik weer aan mekaar vasgeknoop terwyl ons die gletser oorsteek. Charly spring en aan die oorkant land hy op ys, val en begin afgly teen die gletser. Soos ek geleer is duik ek soos `n wafferse rugbyspeler, val met my gewig op die yspik en stop sy val. My hande is nou yskoud en seer van die sneeu. Ons beide staan op en loop stadig verder. Nou is dit my beurt om oor dieselfde krevas te spring. Hy wag soos ek regmaak vir die sprong, maar ek het duidelik nie uit sy fout geleer nie, ek land op my sitvlak, en begin afgly na onder. Ek stop myself na etlike meters se gly met dieselfde tegniek as tevore. Terwyl ek opstaan voel ek die pyn in my duim en sien die bloed, maar ek kan nie dadelik vasstel hoe ernstig dit is nie. Ek gryp maar sneeu en druk my duim daarin, my hande nou naby vriespunt. Ek is vies vir Charly en vir myself dat ek sy voorbeeld gevolg het om die yspik sonder handskoene te dra terwyl ek van beter weet. Versigtig gaan ons verder tot by die onderste rand van die gletser. In die tussentyd het die ander drie meer en meer switserse duits met mekaar begin praat en ek was minder deel van die gesprekke. Ek neem aan dit het te doen met moegheid en dat dit meer inspanning is om `n ander taal (of dialek) te praat. Sonder enige verdere voorval is ons terug onder by die hut teen ongeveer 14:00. Dit was `n lang dag en ons moet nog terug stap, af deur dieselfde indrukwekkende vallei waarin ons Saterdag opgestap het. `n Halfuur later kom die wind, mis, reën en koue in. Charly was dus reg met sy weervoorspelling. Gelukkig is die pad tot onder duidelik gemerk en nie te gevaarlik nie.

Oppad terug na Zurich met die trein dink ek na oor die naweek. Ten spyte van `n paar dinge is ek baie gelukkig en tevrede. Ek verlang egter terug na Suid-Afrika en wens ek kon die groot maar nederige ervaring met my vriende deel. Intussen begin my gedagtes besig raak met die volgende naweek se klim, maar een ding is seker, vanaand gaan ek eers `n stort en my eie bed waardeer.

Categories: Uncategorized | 5 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com. The Adventure Journal Theme.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.